Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Die mannetjies trek draad
Ek het die boer in Worcester raakgeloop in Januarie 2014. Die pampoen was saam met hom op pad skou toe.

Die mannetjies trek draad

Ma kook elke dag en vandag moet daar broodpampoen gemaak word. “Daar moet ‘n wyfie-pampoen ingebring word,” sê ma so met my uittrapslag by die agterdeur. “Die mannetjies trek draad.”

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Kleintyd reeds, voor ek my tanne in broodpampoen ingeslaan het, het ek die stukke brood uitgegrawe en eenkant toe gestoot op die bord. Als so op ‘n hopie vir laaste hou. Dis mos hoe kinders maak – die ‘vir laaste hou’ is mos ekstra lekker.

Ek haat die geskillery, maar daar is vir my niks lekkerder as om te kyk hoe ma dit doen nie. Natuurlik het my gesit langs die tafel, so met die pampoenskillery, meer te make gehad met die pampoenpoppies. So deur die werkery heen het ma vir my woerts-warts ‘n hele gesin pampoenpoppies uit die skil gesny. Vir dae daarna het al wat winkelpop is vergete op die werf onder die akkerboom gelê, terwyl die pampoenpoppe orals saamgepiekel is, selfs bed toe.

Na so ‘n paar dae het hulle almal meer rimpels gehad as ‘n hoenner om haar oeffel, maar die enigste manier wat ma hulle kon afvat, was om weer pampoen te kook.

Vir die res van my dae hier op aarde, sal ek nooit ‘n pampoenskillery dophou en nie ma se hande sien nie. Hande wat pampoenpoppies kon sny.

Ma kook elke dag en vandag moet daar broodpampoen gemaak word.
“Daar moet ‘n wyfie-pampoen ingebring word,”
sê ma so met my uittrapslag by die agterdeur.
“Die mannetjies trek draad.”

Ek steek terstond in my spore vas en kyk ma aan met ‘n oop bek soos ‘n waenshuisdeur, maar okkie vi lankie, want eks mos’sie op my mond geval nie.
“Ja ma, ek weet al hoeka van die mannetjies, maar wat het dit met pampoen te make?”

Ma verduidelik dat ‘n mannetjies-pampoen net ‘n ketotteltjie bo op het, en dat ‘n wyfie ‘n ketotteltjie én so ‘n groot ronde sirkel het rondom die ketotteltjie. “Nes pramme,” sê sy.

En so het die dag aangebreek wat ek die verskil tussen ‘n mannetjies-en-wyfie pampoen móés leer – of ek dit nou wóú weet of nie. Volgens ma is al wat mannetjies-ding is, wat met kos te make het, aan die afferige kant.

En sowaar, ek moet sê dat ek dit deur die jare self agtergekom het. Reg van die snyslag af daar ‘n duidelike verskil – draderig is hy. Die wyfie sny so glad en maklik. Kook jy hom dood sal jy seker nou nie die verskil proe nie, maar gebruik maar eerder die wyfie as jy kan. Al is dit dan ook nou net omdat ma altyd reg is met die kookslag tesaam, maar eerder omdat jy moet leer om raad te volg van die wat weet.

Besides, wanneer daar met kos gewerk word, moet jy heilige respekte hê vir dit wat daar ingaan, en wanneer jy dan nou ‘n mannetjie instede van ‘n wyfie gebruik, en dit draai ‘n gemors uit, moenie vir my kom sta’ kyk met ‘n afdraend gesig soos ‘n waterbob’jan nie. Jy het mos ore. Hoekom het jy dan nie geluister nie?


Die Pampoenstalletjie buite Worcester - net so neffens Nuy.

Ma se broodpampoen in ma se woorde (2014)

Ek sny my boerpampoen in blokkies en gooi dit in die pot saam met genoeg kaneelstokkies, so drie, maar jy moet niks water opgooi nie. Maak maar soveel soos jy mense het wat gaan eet, onthou pampoen kook baie weg en boerpampoen is maar aan die waterige kant.

Stel die gasstoof baie laag en as dit ‘n gewone stoof is, so op nommer twee of drie.
Gooi dadelik jou suiker op – ek kan nou nie sê hoeveel nie, party mense hou van baie soet en ander nie – dit hang maar af van hoe jy daarvan hou.

Ek roer nie aan daai pampoen nie, as hy warm word en hy maak water smelt die suiker outomaties daarin en dan laat ek hom so ‘n rukkie gaan.

Pampoen kook vinnig, maar hou net dop om te kyk dat hy miskien nie brand nie. As ek sien dat hy begin drogerig raak, gooi ek so ‘n skerfie botter op, omtrent ‘n dessertlepel.

Die grootste geheim van pampoen kook is dat jy nie aan die ding moet karring nie. Moet hom nie roer nie, want dan word hy ‘n papsel. Hou hom tussen braai en kook en draai eerder die vuur laer as dit lyk of hy gaan brand.

Hoe lus jy vir die brood is, en hoeveel water hy getrek het, gaan bepaal hoeveel brood jy ingooi. Breek die brood in stukke, ek sal sê so drie snye om mee te begin. Jy sal naand sien dit lyk of die pampoen wil vasbrand, en hy maak so ‘n taai laag onder in die pot, maar moenie roer nie. As jy regtig dink hy gaan brand, dop hom so saffies (saggies / liggies) om dat onderkant bo is dat die anderkant se stuk ook so lekker bruinerig word. Jy sal voel hy raak so taai, omtrint soos tammeletjie. Jy wil hom nie te hard braai nie, dan word hy ‘n propperse taaispul, maar jy sal sien die pampoen raak so deurskynend.

Dan eet jy vir hom lat jou tanne klap.

Ouma Neethling se Nuy vroe’pampoen soos ma dit onthou

Vat een lang vroe’pampoen – dis nou ‘n marrow, maar ‘n uitgegroeide ene. Skil hom en sny hom in blokkies.

Nes met die boerpampoen, gooi jy hom in die pot met suiker, kaneel en ‘n klein bietjie sout. Hy gaan bietjie waterig word, maar dit maak nie saak nie. Sodra hy gaar is, skep hom uit in ‘n oondpan en sit klontjies botter (of margarien) bo-op.

Dan maak jy vir jou ‘n trapsel deeg, nes pannekoekdeeg, maar bietjie dikker. Die deeg wat oorbly kan jy olie en nog water byvoeg en pannekoek mee bak.

Gooi die deeg bo-oor die vroe-pampoen en steek in die oond so teen 180 °C. Hou hom maar dop, want so van 20 minute se koers af sal hy begin regkom. Jy sal sien as hy nie meer drillerig is nie, dan is hy reg.

Annie se broodpampoen

Hierdie is so maklik soos kan kom. Jy vat ‘n bakskottel en pak als daarin. Ek spuit dit eers non-stick, want vir die geskuur agterna het mens nie krag of lus nie.

Pak die blokke of skywe pampoen onderin die bak. Gooi jou suiker oor en breek die brood in stukke en pak dit bo-op. Ek gooi sommer nog ‘n bietjie suiker oor die brood, net vir die wis en die onwis. Witbrood werk die beste. Gebruik genoeg brood.

Sprinkel kaneel oor en stip met klontjies botter. As jy dit ekstra lekker wil hê, werk sommer ‘n hand of twee vol sultanas of rosyntjies in of gooi dit bo-oor. Bak teen 180 °C tot goudbruin van kleur.


𝖤𝗄 𝗁𝖾𝗍 𝗁𝗂𝖾𝗋𝖽𝗂𝖾 𝗌𝗍𝗈𝗋𝗂𝖾 𝖽𝗂𝖾 𝖾𝖾𝗋𝗌𝗍𝖾 𝗆𝖺𝖺𝗅 𝗀𝖾𝗌𝗄𝗋𝗒𝖿 𝗂𝗇 𝟤𝟢𝟣𝟦, 𝗈𝗇𝖽𝖾𝗋 𝗆𝗒 𝖾𝖾𝗇 𝗌𝗄𝗋𝗒𝗐𝖾𝗋𝗌𝗇𝖺𝖺𝗆 𝖠𝗇𝗍𝗃𝗂𝖾 𝖲𝗈𝗆𝖾𝗋𝗌, 𝗍𝖾𝗋𝗐𝗒𝗅 𝖾𝗄 𝗋𝖾𝖽𝖺𝗄𝗍𝖾𝗎𝗋 𝗐𝖺𝗌 𝖻𝗒 𝖡𝖺𝗋𝖻𝖾𝗋𝗍𝗈𝗇 𝖳𝗂𝗆𝖾𝗌. 𝖤𝗄 𝗌𝗂𝖾𝗇 𝖽𝗂𝖾 𝖾𝗂𝗇𝗌𝗍𝖾 𝗌𝗍𝗎𝗄 𝗂𝗌 𝗇𝗈𝗀 𝖻𝖾𝗌𝗄𝗂𝗄𝖻𝖺𝖺𝗋 𝗈𝗉 𝖢𝗂𝗍𝗂𝗓𝖾𝗇. 𝖣𝗂𝗍 𝗐𝖺𝗌 𝗌𝗈𝗆𝗆𝖾𝗋-𝗌𝗈, 𝗆𝖺𝖺𝗋 𝗉𝖺𝗋𝗍𝗒 𝗅𝖾𝗌𝖾𝗋𝗌 𝗁𝖾𝗍 𝗌𝗈 𝖻𝖺𝗂𝖾 𝖽𝖺𝖺𝗋𝗏𝖺𝗇 𝗀𝖾𝗁𝗈𝗎, 𝖽𝖺𝗍 𝖾𝗄 𝗅𝖺𝗍𝖾𝗋 𝗆𝖾𝗍 '𝗇 𝗁𝖾𝗅𝖾 𝗆𝖺𝗇𝗎𝗌𝗄𝗋𝗂𝗉, 𝗀𝖾𝗍𝗂𝗍𝖾𝗅𝖽 "𝖣𝗂𝖾 𝖵𝗈𝗈𝗋𝗁𝗎𝗂𝗌 𝗆𝗈𝖾𝗍 𝗀𝖾𝗏𝖾𝖾 𝗐𝗈𝗋𝖽", 𝗀𝖾𝗌𝗂𝗍 𝗁𝖾𝗍. 𝖡𝖺𝗂𝖾 𝗏𝖺𝗇 𝖽𝗂𝗍 𝗂𝗌 𝗀𝖾𝗉𝗅𝖺𝖺𝗌, 𝗆𝖺𝖺𝗋 𝗆𝖾𝖾𝗋 𝗏𝖺𝗇 𝖽𝗂𝗍 𝗁𝖾𝗍 𝖾𝗄 𝗇𝗂𝖾 𝗀𝖾𝗅𝖺𝖺𝗂 𝗇𝗂𝖾. 𝖬𝖾𝗇𝗂𝗀 𝖵𝖺𝗅𝗂𝖾𝗌, 𝗆𝖺𝖺𝗋 𝗏𝖾𝗋𝖺𝗅 𝗍𝖺𝖺𝗅𝗉𝗎𝗋𝗂𝗌𝗍𝖾, 𝗄𝗈𝗇 𝗆𝗒 𝖡𝗈𝗅𝖺𝗇𝖽𝗌𝖾 𝗉𝗋𝖺𝗍𝖾𝗋𝗒 𝗇𝗂𝖾 𝗏𝖾𝗋𝖽𝗋𝖺 𝗇𝗂𝖾. 𝖭𝗂𝖾 𝗇𝖾𝗍 𝖽𝗂𝖾 𝗌𝗉𝖾𝗅𝗅𝗂𝗇𝗀 𝗇𝗂𝖾, 𝗆𝖺𝖺𝗋 𝗈𝗈𝗄 𝖽𝗂𝖾 𝗆𝖺𝗇𝗂𝖾𝗋 𝗐𝖺𝗍 𝗈𝗇𝗌 𝖪𝖺𝗉𝖾𝗇𝖺𝖺𝗋𝗌 𝗁𝖾𝗍 𝗐𝖺𝗍 𝗈𝗇𝗌 𝗌𝗂𝗇𝗇𝖾 𝗏𝗂𝗋 𝖺𝗇𝖽𝖾𝗋 𝗏𝖾𝗋𝗄𝖾𝖾𝗋𝖽𝗈𝗆 𝗅𝖺𝖺𝗍 𝗄𝗅𝗂𝗇𝗄, 𝗆𝖺𝖺𝗋 𝗁𝗂𝖾𝗋 𝗂𝗌 𝗈𝗇𝗌 𝗇𝗈𝗎 - 𝖾𝗄 𝗂𝗌 𝟧𝟨 𝖾𝗇 𝗂𝗌 𝗇𝗈𝗀 𝗇𝖾𝗍 𝗌𝗈𝗈𝗌 𝖾𝗄 𝗂𝗌 𝗐𝖺𝗇𝗇𝖾𝖾𝗋 𝖾𝗄 𝗌𝗄𝗋𝗒𝖿.

Hierdie is nie 'n joernalistieke stuk vir die koerant nie. Ek weet hoe om te skryf en ek weet hoe om te spel. Hiérdie is stukkies van mý.


ᴳʳᵒᵉᵗᵉ, 
ᴬⁿⁿᶦᵉ ⱽᵃⁿⁿᶦᵉ ᴷᵃᵃᵖ.

Om my te WhatsApp, klik enige plek in hierdie blok.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More