Kan landdros Olivier vandag die skale reguit trek? (Live EWN-video skakel ingesluit)
Mag landdros Twanet Olivier vandag by die KuGompo City-landdroshof die regte ding doen wanneer sy uitspraak lewer oor die vonnis wat Malema gaan kry, sodat die skale darem soortvan in balans kan kom.

In teorie is die antwoord eenvoudig: ja.
Ons Suid-Afrikaanse regstelsel is gebou op die beginsel dat elke burger, ongeag status, invloed of politieke mag, dieselfde behandel moet word. Die wet is die wet. Dit is hoe dit veronderstel is om te werk.
In praktyk het daardie beginsel jare terug al liederlik begin kraak, en die skale van geregtigheid hang lankal nie meer gelyk nie. Nie net kantel dit soos ’n donkie met galsiek nie, maar die een kant sleep heeltemal op die grond. Die gewone man en vrou op straat, die wat nie duur regshulp kan bekostig nie, se omstandighede en hul woord word herhaaldelik te lig bevind wanneer uitsprake gelewer word.
Wanneer ek vandag ’n rooi Pep-hempie oor my kop trek en in ’n straat gaan staan, met ’n geweer, selfs sonder koeëls, en dit bloot net na iemand point, sal daar geen kans wees dat ek ooit weer sal losloop nie.
Daar sou nie dieselfde ruimte gewees het vir uitstel, interpretasie en debat soos wat nou met Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), gebeur nie. Daar sou nie grys areas gewees het nie, want die lyne van die wet is (mos) duidelik en direk. Maar hier sit ons nou, op ’n punt waar alles alweer langer gevat het, alweer uitgerek het, alweer gedraai het, omdat dit nie ek of jy is wat daar staan nie. En dis juis daar waar die probleem lê, want wanneer die man in die beskuldigdebank ’n bekende politieke figuur is, raak die pad na aanspreeklikheid skielik langer met baie meer afdraai-paaie.
En dit nadat hy in 2018 tydens die EFF se verjaarsdagviering in ’n stadion, voor duisende mense, begin losbrand het in die lug met ’n vuurwapen met lewendige ammunisie.
So ek, en baie ander glo ek, wil steeds weet: As ons dit gedoen het, hoe vinnig sou daar helse gevolge gewees het?
My vertroue in die regstelsel het jare gelede reeds sy gat gesien, omdat my eie vingers al liederlik verbrand is. My, en ander landsburgers, se probleme is amper onsigbaar in die lig van wat in die res van die land en wêreld aangaan, maar ons is die wat die kruisies moet trek, keer op keer. Ons is die belastingbetalende minderheid wat almal se sake aan die gang hou (om lekkerder te kan leef, my tjint).
My respek vir die konsekwente toepassing van die reëls wat in ons regstelsel se boeke staan, het lankal gekwyn, want in hierdie land, Suid-Afrika, is daar (dikwels) twee stelle reëls. Dit staan nie in boeke en op papier nie, maar dit staan lewensgroot voor ons.
Mag landdros Twanet Olivier vandag by die KuGompo City-landdroshof die regte ding doen wanneer sy uitspraak lewer oor die vonnis wat hy gaan kry, sodat die skale darem soortvan in balans kan kom. En ook sodat ek, en ander, ’n mate van respek en vertroue in ons regstelsel kan terugkry. Die alternatief sal net nog iets wees wat ’n nasie, wat reeds op hul knieë staan en spartel in die riool van red tape, verder in die stank indruk.